Wie is Primêre Meisieskool Oranje

Wie is Ons

Oranje word uit die stryd en armoede van die Afrikanervolk na die Anglo-Boereoorlog gebore. Pres. M.T. Steyn het die volgende in gedagte gehad met die stigting van die skool:

“Gee aan die vrou godsdiens, eerbied en geloof in die goeie, die edele en die heilige en sy staan so vas soos ʼn rots. Sy sal, as die geleentheid hom voordoen, ʼn heldin word.”

Die naam “Oranje”

Die skool is vernoem na die Huis van Oranje in Nederland, aangesien die jong koningin Wilhelmina ʼn ruim bydrae tot die stigting van ons skool gemaak het op versoek van Pres. M.T. Steyn.  Behalwe geld, is silwer en porselein gestuur om hierdie skool in te rig.  Van hierdie ware is vandag te sien in die Rachel Steyn-saal asook in die Elizabeth le Rouxhuis.

Ons wapen

President Marthinus Theunis Steyn, stigter van Oranje in 1907, en sy vrou het hul familiewapen aan die skool oorhandig. Dit is oorspronklik afkomstig uit Haarlem, Nederland.

Ons leuse:  Vooruit

Daar is drie eendjies op ons wapen. ʼn Eend kan net vorentoe stap en nooit agteruit dit is dus simbolies vir ons leuse: VOORUIT.